Monday, August 20, 2007

jag van die jagluiperd / dood van die rooibokkie

styfgespanne snaar jou lyf
kolkol tussen die wuiwende gras
jou oë doelgerig
vasgenael

ons aanskou as bevoorregte toeskouers
skouer aan skouer, met ingehoue asems wat stilweg snak

jou prooi staan onbewus
rustig kouende herbivoor
syglad die ooitjie met ver dromende kyk
in haar bokkiebruinoë

haar nagmerrie
wag
berekenend

en ons wag gespanne
die oomblik af

as die aksie in volle vaart toeslaan
jy nie die afstand uit kan rek
en ons wis oombliklik
die jagluiperd gaan nie
vannag honger slaap
rooibokkie jy het
rooi en bloederig geboet met jou lewe
vir oorlewing
van 'n ander soort/aard

bokkie bruin oog kyk nou leweloos
wimpers hang nou bloedbevlek

2 comments:

Anonymous said...

sjoe, jy't sowaar my laat voel ek was ook daar....uitstekende beskrywende gedig!(een se dood is die ander se brood? is seker deel van die natuur maar telkens tog ook nie lekker om dit te beleef, is bietjie wat ek ook dink..)

izak w janse van rensburg said...

asof in slowmo die natuur se lewens/sterwens drama in sulke fyn gedetaileerde gestaltes beskryf.
welgedaan !