Die dag was 'n Donderdag, soos menige ander Donderdae. Huishulp dag. Maandae en Donderdae werk Jackie woerts warts deur my huis. Vanoggend vroeg het ek 'n ou gebruikte selfoon op die eetkamer tafel vir haar neergesit. Dit was op aanvraag... hare het weer die gees gegee verlede week. Die tweede keer in minder as 3 maande, maar nou-ja, as 'n selfoon sy laaste asem uitblaas...
Jackie is baie in haar skik, bedui sy is nou besig om hom te "charge"... nounou gaan hy werk!
Ek kom so rukkie later by die selfoon verby... kyk of die ding darem nou al lewe het. Sy liggie brand ewe vriendelik... ek loer biekie verder... sien die nommers op die foon, en gedagtig dat dit 'n ou foon van my man is, begin ek die nommers in sy geheue een vir een afhaal. Dan probeer ek die lot geLYK afhaal met eenasem, maar nee... die ding sê ek kan nie, dan het ek 'n pinnommer van 'n aard nodig, wat ek gewis nie het nie. So haal ek, ewe pligsgetrou, en met groot deursettingsvermoë ELKE nommer een vir een af. Ek kom op heelwat verdagte nommers af, verstom my 'n oomblik, oorweeg infedilty, maar weet soveel te meer dat ek die nommers dan nou MOET afhaal... ek kan nie toelaat dat selfs die huishulp sien waarmee hou my man hom besig nie. Ek kan ook nie nou vir time-out vra en sê sy mag die foon eers volgende Maandag kry nie. Verdagte naam na verdagte naam... ek DELETE hulle, BettieBets, haarkapster, bakster, nog sterre... Hoe verder ek gaan hoe erger wonder ek waarmee IS my manlief agter my blad besig?! So 'n ...
Ek is tussen kwaad, te pletter en iets soos trots. Ek delete elke nommer, de laaste een, wetend ek wis ook die bewysstukke waarmee ek my man sou kon aankla uit. Doelbewus, asof ek dink daarmee gaan wat-ookal agter my rug aangaan nou stop. En ek verwonder my aan my man se onnoselheid... hoe het hy gedink... ek gaan dit nie sien nie, dink hy EK is onnosel? Maar ek het my trots, sal nie die huishulp laat agterkom hier's 'n ding onder my neus waaroor ek eintlik wil dood, of doodMAAK!
Toe die laaste een afgehaal is, kom Jackie weer verby - ek wys haar trots... kyk daar, ek het hom vir jou MOOI skoongemaak! Sy kyk my snaaks. "Hoe maak mens die selfoon skoon", vra sy. Ek bedui sy kan nou al haar nommers opsit, daar is geen ou nommers op nie. Sy kyk my nog snaakser. Dis dan al haar nommers op die foon... sy het reeds haar simkaart ingesit.
Die eerste keer dat ek 'n gedagte gee daaraan dat ek al Jackie se nommers nounet uitgewis het, dat dit is hoekom die name en nommers nie sin wou maak, vang my soos 'n lawa uitbarsting, 'n vulkaan wat spoeg. Ek word warm en ek word koud. Ek gaan sit. "Jackie, jimmel, mens, ek dink..."
"Het mevrou MY nommers afgehaal? Jirre Mevrou???!!!"
Ek sukkel vandag nog om Jackie onbeskaamd in die oë te kyk... sy is steeds 'n paar nommers kwyt.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
3 comments:
Brilliant! What a story! xx
Goeie dag, ek wil myself net kom voorstel, ek is nuut in die blog-wêreld.
Elke inloer, kommentaar en ook opbouende kritiek, oor jy wou en nie moes nie, sal baie waardeer word.
http://andrinie.wordpress.com/
hehehe "jirre Mevrou"
dis funny!~! ek kan net sien hoe jou man sy kop vir jou skud oor die ene
Exx
Post a Comment