[geskryf op die dag van / na die groot trek]
die dag was lank
die ure te kort
in jou binnepensie
lê dit middeldag
hollerig
en naak
half verlore en verlaterig
met klanke wat weer wil klink
en raas
in die truspieël
staan jy vasgemessel
'n regte kaapse draai
met 'n nommer 14 op jou bors
my kaalgestroopte meenthuis
- kompleks - en tog! so lekker eenvoudig
met my liefwees binne jou gelos
voor my oë
in die linkerbaan
bars 'n treklorrie
deur sy nate
maar hou sy koers
- kopperig -
op die dubbelpad
in jou binnepensie
lê ek weer middelnag
styf en seer
- kapotterig -
toegegooi in eggo's wat boemerang en breek
en diepdiep in my hart in steek
en droom ons droom
en slaap 'n slaap so saggiesloos
- die lewe stap aan -
vandag net nog 'n dag
en tog, by nagedagte:
genadiglik nie soos elke ander een
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
5 comments:
'n trek is op sy beste maar 'n tyd van beproewing, keuses van woorde bring die lief vir die ou adres goed na vore, mag daar nog vele versies vanuit die nuwe tuiste geskep word.
om telkens so in jouself te kan tuiskom ongeag die plek en tyd, net daar waar Jesus mos altyd is al voel dit hoe, is genade wat nie gepraat kan word in tale van mense nie maar jy het baie goed geskryf dat dit altyd meer as 'n foto die herinnering sal mooi maak sodat selfs ander dit so kan verstaan..geseend is julle.
ek weet.
Daardie stukkie van "bars 'n treklorrie uit sy nate" laat my dink aan daardie advertensie waar hulle gesing het "There goes my everything" terwyl die lorrie fisies uit sy nate bards. Mag ek vra, wat bedoel jy by "kopperig"?
Hoop jy het nou amper klaar uitgepak dat ons kan uitsien na 'n nuwe versie!
ek wil tog verduidelik:
1. kopperig soos in koppig op 'n hobbelrige pad.
Koppig soos in vasberade, vasbeslote om te doen wat ek moes, al wou ek dit nie alleen doen, ek moes, so vasgebyt en deurgedruk, koppig genoeg om nie op te pak, al die oppak ten spyt. Dalk nader aan hardkoppig?
Hobbelrig soos in 'n ongelyke pad, een met hobbels en gate en so. Oorbeskermend dalk oor al my "belongings" wat met elke skud seer kon kry, oor ek 'n trekgeselskap sonder verwysings gebruik het en nie die versekering ordentlik gereël gehad het nie.
2. Kopperig ook soos in (amper) herhaling van gevoelens: "hollerig", leeg innie binnekant, in die huis net na als gelaai was, dan "kopperig" op die pad, en weer "kapotterig", moeg verby, na als afgelaai was en ek terug in die "leë" huisie my slaap moes kry. hmmm dis min of meer dit. So dankie vir die vraag - ek't gesien ek moes die hollerig ook -hollerig- geskryf het, want dit was min of meer die gedagtegang.
En jy is welkom nog te vra - dan verstaan ek ook beter, so jy help my sowaar, Kop-op-'n-blok! lol, nou wonner ek of jy my ook sal antwoord - waarop of waarom het jy jou kop op 'n blok gesit? of sommer net waarom is dit jou naam?
Kom kuier weer! ;)
Dankie, jy het omtrent verduidelik, nou verstaan ek beter. Hoekom die naam My Kop Op 'n Blok? Ag, ek wou maar 'n bekende frasetjie of iets gebruik, eerste gedagte was Blok Myself, maar ander mense het dit al gevat, alhoewel nie een baie aktief is nie.
Hoekom ek besluit het om my kop op 'n blok te sit? Ek het besef ek hou van skryf, sommer net sulke kort stukkies oor enigiets. Ek dink blog het dieselfde lekkerte as om 'n rubriek vir 'n tydskrif te skryf, maar sonder deadlines en redakteurs!
Post a Comment