Opgedra aan Strandsig 603
~ op golwende ritmes en klimmende hoogtes /
langs kusweg
jou oopmond en knypoog en seerkop gegroet
vir die laaste maal vannag
ons finale uur
voor ek die sleutel weg gaan gee
vir jou nuwe baas
en vir oulaas
die liggies teen die helder berg sien knipper
en dit stilweg in my sak laat glip
terwyl die son sy laaste uurtjie rus
en oggendskemering haar in die koelluggie roer
waar die manne hul skuite beginne lig
om nog vis van die bodem te loop stroop
toe, lê
jy daar
in sakke
vol klippies
vol skulpies
vol memories
en souweniers
eindelik en eintlik so leeg
in bokse vol gepak en toe geplak
en as ek jou later weer versigtig uithaal
en elders neersit vir weer en meer gebruik
en vir klein bietjies onthou in hoekies druk
gaan jy lyk soos vergeelde foto's
van al die lekker dae
vuilgevat van al die kyk en
al die bedrywigheid op jou kaai
waar ek oop en droog en hoog in jou wind kon waai
en lag oor manewales en later al sagter
russende sugte sug en bietjie snork
oor allerhande aller-lekkerste goed
as ek jou onthoue in my hand rondrol
sal jy stil bly en stil bly lê sonder enige sê
terwyl ons albei weet
hoe ek die snoeskombersie op jou berg gaan mis
en weer anderdag in jou see se branders sal kom bruis
en warm op die sandkorrels in jou son kom speel
maar voor ek nog 'n keertjie skelm
na jou binnekant kan loer
skud die dag my
en ek moet groet
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
5 comments:
die lekker memories oorskadu die hartseer van laat gaan in hierdie gedig.'n lewe vol memories is BAIE meer werd as enige gebou of geldeenheid.....
jou gedig oor 603 Strandsig is nog meer treffend -
omdat ons bevoorreg was
om ook daar saam te kon kuier
in die snoesigheid van 'n kraakvars en wit kokon
met 'n glasoog-venster verseel
oor die digste baai
en die wind so koud kon huil
en die plooie oor die see in Valsbaai so opreg kon wees
en Gordon se anker so links en so naby kon wees
en die Kaap se komma-punt so ver en so regs kon wees
en ons die onthou kan saamvat dieper die bultende binneland in
sodat die herinnering vir altyd in ons terugdink kan blink
shit, hoekom is rou hartseer soms so lekker ?
Ek kan saam met jou, my meisie, die emosies voel as jy dit so goed met woorde skryf wat ek weet ons altwee voel.
Kyk ook na my groet op my blog: http://hannesvr.blogspot.com/2007/05/blog-post_24.html
Dis 'n seer wat jy moeilik deel..
Dis 'n wonder wat jy altyd wonder..
Dis 'n hunkering, 'n verwagting, 'n hoop wat altyd bly..
As jy moet afstand doen van jou lekker en mooi herineringe..
Sterkte vir die oppak en uittrek slag..
Ek dink..
Post a Comment