die klank
van jou vasbyt
jou weier om te skree
slaan vas in my geheue
terwyl die houe op jou reën
uit pa se hand woed nog kwaad
met dieselfde stukkende wasgoedlyn
waarop jou spik-splinter-nuwe knipmes
sy vernuf moes wys, ek was vreemd beindruk
die klank
van my huil
oor my onvermoë
om jou seerkry te keer
ons pyn probeer wegsteek
onder nat kussings op die bed
in die karavaan in die winter opgeslaan
tussen al die wilde diere in die ongetemde tuin
het ons nog een gesien, wat toe nie die antwoord ken
vakansie verby ons sal verseker moet rekenskap gee
vermoed jy was in die laerskool, ek dalk ook, of amper dan
leerskool waaruit ons vlekkeloos kon stap, ek al agter jou aan
3 comments:
mooi verhalend. ek like! die twee piramied strukture...gedigte se topografie is ook soms visueel belangrik.
eindig miskien met iets wat vergewe en vergeet by die leser tuisbring en die perspektief van dat dit aangename humor in 'n baie effektiewe leerskool was, beklemtoon.......baie akkuraat bedig !
3 uit 5
hou van eerste deel, 2 deel bloot verhaal in versvorm geskryf
stem saam met kazi oor die topografie , dink einde moet egter net so bly.As jy dit na vergewe/vergeet verander word dit nie meer die skrywer se ervaring maar die een wat die houe gekry het s'n? Die een dalk te naby en my verstaan te goed? Daarom dink ek dis puik!
Post a Comment